Die Mercedes-Benz M100-enjin was 'n 6 332 cc (6,3 L) enkelbonokas V8-enjin wat tussen 1963 en 1981 deur Mercedes-Benz vervaardig is. As die opvolger van die M189-weergawe van die maatskappy se bekroonde 3.0 L inlynsessilinder M186, is dit bekendgestel in die vlagskip Mercedes-Benz 600. In 1968 is dit aangebring in die hoëprestasie Mercedes-Benz 300SEL 6.3 sportsedan. Die enjin is vergroot tot 6.8 L in 1975 vir die Mercedes-Benz 450SEL 6.9 (1975-1981). Die M100 bevat 'n gietysterblok, aluminiumlegeringskoppe en natriumgevulde kleppe in vliegtuigstyl wat teen geharde klepsitplekke werk. Soos in alle Mercedes-Benz-motorenjins, is die krukas, verbindingsstawe en suiers gesmee in plaas van gegote. Die kragbron van 6,3 liter lewer konserwatief 184 kW, met 503 Nm se wringkrag om te help vergoed vir die 2,65:1 finale verhouding nodig vir volgehoue hoë-spoedbestuur. Die 6.9 L M100 gebruik 'n "droë oliebak" enjinsmeerstelsel, wat beide verhoogde langlewendheid en verminderde oorhoofse enjinhoogte bied. Oorspronklik ontwikkel as 'n manier om skuiming van enjinolie teen hoë krukas-toere te voorkom, wat 'n ernstige daling in die oliedruk sou veroorsaak, het dit volgehoue snelhede teen volle enjinkrag moontlik gemaak. Die M100-stelsel het 'n massiewe twaalf liter olie deur die enjin gesirkuleer en 'n opgaartenk wat binne die regtervoormodderskerm gemonteer is, in teenstelling met die gewone vier of vyf liter wat in V8's gevind is met 'n standaard oliebak en oliepompkonfigurasie. Die droë-oliebakstelsel het ook die voordeel gehad om die olieversieningsinterval na 20100 km uit te brei.Dit, tesame met hidrouliese klephysers wat geen verstelling nodig gehad het nie en spesiale silinderkoppakkings wat die behoefte aan periodieke vasdraai van die kopboute uitgeskakel het, het die 6.8 byna onderhoudsvry gemaak vir sy eerste 80 000 km.
Developed by StudentB